REëLS EN REGULASIES VAN DIE ASF
Hingste
word genomineer deur hulle eienaar teen ‘n nominale fooi van R1000.
Met
hierdie nominasie gee die hingseienaar toestemming dat een dekking deur die ASF
opgeveil mag word. Die opbrengs sal
aan die ASF gaan.
Indien
die dekking verkoop word op die hingsveiling word ‘n “kopers opsie”
verkry. In kort beteken dit dat die koper ‘n merrie van sy keuse beset kan kry
van die betrokke hings en nomineer hy dan die dragtige
merrie vir die Speenoud Futurity.
Indien
die dekking nie verkoop word nie, het die hingseienaar die reg om teen geen
verdere koste, self ‘n dragtige merrie van sy genomineerde hings te nomineer.
Die
hingseienaar het egter ook ‘n “skenkers opsie” as sy hingsdekking wel
verkoop is. Dit beteken vir ‘n addisionele nominale R1000 kan hy ook ‘n
dragtige merrie van die betrokke hings nomineer. Hierdie opsie kan hy ook aan
iemand vir ten minste R1000 verkoop
as hy nie self ‘n dragtige merrie wil nomineer nie. Die totale
opbrengs van hierdie verkope moet
egter na die ASF gaan.
Daar
sal dus altyd een, maar ‘n maksimum van twee vullens van ‘n genomineerde
hings aan die jaarlikse futurity kan deelneem.
Geen
hings se dekking sal op die hingsveiling plaasvind indien die nominasie fooi van
R1000 en die nominasie vorm teen die sluitingsdatum die ASF bereik het nie. Daar
sal GEEN uitsonderings gemaak word
nie.
Die koper van die dekking moet direk na afloop van die veiling of binne 24 uur die geld oorbetaal aan die ASF.
Daar
word ook beplan om, as hierdie vullens 3 jaar oud is,
‘n vertonings futurity te hou. Slegs die vullens wat van die oorsponklike
genomineerde merries afkomstig is, sal kwalifiseer. Hulle hoef egter nie in die
Speenoud Futurity te geskou het nie. Die eienaar sal, as hulle 2 jaar oud is,
hulle in verskillende afdelings kan nomineer - Siertuig, Driegang en Vyfgang.
Geen kruisnominasies sal toegelaat word nie en geen veranderings in die
afdelings sal toegelaat word as die perd gaan skou as drie jaar oud nie. Daar
sal nog oor die nominasie bedrag betaalbaar, besluit word.
Daar
sal van 5 beoordelaars gebruik gemaak word wat ‘n “score sheet” sal
gebruik vir die beoordeling om te verseker dat dit heeltemal deursigtig is. Daar
word ook voorsiening gemaak vir uitdunne en ‘n finaal. Die vullens sal
individueel vertoon word en nie die baan gelyk in kom nie. Daar sal op ‘n
lukrake wyse besluit word in watter volgorde hulle die baan sal inkom. Dit kan
gebeur dat drie uitdunne gehou word,
met 10 vullens in elke uitdun, met die finale 10 of meer dan op die Saterdag van
die skou. Geeneen, behalwe die tabuleerder sal egter weet in watter volgorde die
finale groep geplaas is nie. Daar sal dus geen front line wees nie. Die finaal
is in geheel ‘n nuwe klas.
Indien
‘n hings sou vrek voordat die merrie dragtig verklaar is, sal die koper sy
geld, wat hy vir die dekking op die veiling betaal het, terug kry.
Indien
die vul dood gebore is of later vrek, word dit as ‘n “act of God” beskou
en kan daar ‘n ooreenkoms tusssen die hingseienaar en die merrie-eienaar wees
of daar nog ‘n dekking beskikbaar gestel sal word. Die koper van die dekking
en die hingseienaar sal ‘n kontrak met mekaar sluit nadat die dekking bekom is
waar hierdie gebeurlikhede duidelik omskryf sal word. Die volgende vul sal egter
nie kwalifiseer vir die Futurity of toekomstige vertonings Futurities gekoppel
aan hierdie betrokke jaar nie.
Bewys
van die DNA van die vullens moet voor die skou deur alle deelnemers gelewer
word. DNA toetse sal op die eerste 8 plasings uitgevoer word ter bevestiging.
Die koste hiervan word deur die ASF gedra. Dwelmtoetse
sal ook lukraak uitgevoer word en sal die koste daarvan weereens deur die ASF
gedra word.
Hierdie
reëls en regulasies mag van tyd tot tyd aangepas word soos dit nodig blyk te
wees en mag dus verander van jaar tot jaar. Die nuuste reëls en regulasies sal
egter altyd op die webblad van die ASF (www.africasaddlehorsefuturity.net)
beskikbaar wees.
© Ross
Millin & ASF