AFRIKA SAALPERD FUTURITY

 

Hierdie konsep is in November 2009 deur Ross Millin voorgestel om die Saalperd teelbedryf in Suid-Afrika ‘n hupstoot te gee. Die basiese idee is om ‘n genomineerde teelklas te hę waarin die speelveld gelyk gaan wees tussen die klein en die groot teler en waar die vuleienaar, teler en die hingseienaar ‘n beter kans het om ‘n opbrengs op sy belegging te verkry . Geen vullens sal genomineer word nie, maar wel hingste en teelmerries wat dragtig is van die genomineerde hingste. Slegs die vullens van sulke genomineerde teelmerries sal kwalifiseer om deel te neem aan die Speenoud Futurity.

 

Dit is rofweg gebaseer op die baie suksesvolle All American Cup van Jim Aikman en Melissa Moore se Blue Grass Futurity, maar wat uniek aangepas is vir ons plaaslike Saalperdbedryf.

 

‘n Trust, die “AFRICA SADDLE HORSE FUTURITY TRUST” (ASF) is gestig met 3 trustees, Ross Millin, George Borcherds en Francois Dercksen. Hierdie trust sal as regsentiteit gebruik word om die ASF te bestuur. Met die belofte van hingste wat reeds genomineer is, sal die wenner van die eerste Speenoud Futurity ‘n ongeëwenaarde R25000 kan wen! Die ander 7 plasings sal ook substantiewe bedrae kan wen. Die hingseienaar van die wenvul sal ook kwalifiseer vir prysgeld.

 

Die rede hoekom die eerste Speenoud Skou op Middelburg sal plaasvind, is veelvoudig. Middelburg is sentraal en spog met ‘n aantal eerstes in die S.A. perdebedryf. Die eerste Nasionale Saalperd Skou is hier gehou in 1954 en die Ryperd Beoordelaars Vereniging is hier deur Cecily Norden en Wille van der Merwe gestig. Die eerste reëlboek vir Saalperd beoordeling en die organisasie van perdeskoue in Suid-Afrika is ter plaatse deur Cecily Norden geskryf en so kan ons aangaan, met baie eerstes ook vir die ander perderasse.  Middelburg verdien dus om weer by ‘n eerste in die Saalperdbedryf betrokke te wees! Daar is heelwat gastehuise in en om Middelburg en verblyf behoort goedkoper as Bloemfontein te wees.

 

Die skoudatum is begin Maart wanneer dit nog warm genoeg is en die vullens nie dan  ‘n “body clip” hoef te kry nie.

 

Omdat daar ± 86 vullens gaan kwalifiseer (as alle hingste wat sover genomineer is 2 vullens gaan oplewer) en die prysgeld so groot is, sal die klas nie afgejaag kan word nie. Daar sal ‘n uitdun en ‘n finaal moet plaasvind. Bloemfontein Skou het ongelukkig nie die tyd hiervoor nie. Hierdie Speenoud Klas sal ook nooit die S.A. Kampioen Speenoud vul kan of wil vervang nie. Die skou sal onder die reëls van die Beoordelaars Vereniging plaasvind met ‘n duidelik rasstandaard en puntestelsel (“score sheet”) wat deursigtig sal wees. Elke beoordelaar se plasings en redes sal na die tyd beskikbaar wees vir almal om te sien.

 

Hoewel daar aanvanklik net ‘n speenouderdom handklas (merries en hingsies tesame) voorsien word, is die idee om later ook ‘n vertoningklas te hou as die perde drie jaar oud is. Deelname sal egter beperk wees tot vullens wat gekwalifiseer het vir die ASF weens die hings en merrie nominasies, maar sal nie beperk word tot vullens wat aan die aanvanklike Speenoudklas deel geneem het nie. Heelwat vullens was dalk nie “mooi” genoeg om aan die handklas deel te neem nie, maar kan later wel aan die vertoningsklas deelneem. Daar sal vir ‘n Siertuig-, Driegang- en Vyfgang afdeling voorsiening gemaak word. Hierdie perde sal deur hulle eienaars as 2 jaar oud perde weer genomineer moet word vir deelname aan die verskillende afdelings as drie jaar oud perde. Geen kruis nominasies sal toegelaat word nie en geen verandering in die afdeling mag later gemaak word nie. ‘n Bykomende nominasiefooi sal geld vir hierdie vertoningsklas. Hierdie bedrag moet nog gefinaliseer word. Die vertoningsklasse sal op Bloemfontein Skou saam met die Nasionale Kampioenskappe plaasvind as die program dit toelaat. Indien nie, sal dit ook op Middelburg Skou plaasvind.

 

© Ross Millin & ASF